Onderwêreld deur Fanie Viljoen.

Onderwêreld is ’n jeugroman met ’n kinkel. Dis ’n fantastiese boek om hedendaagse kinders se konsentrasievermoë te verskerp. Die boek is uniek weens die manier waarop dit geskryf is, die konsentrasie wat dit benodig en die intensiteit van besonderhede.

As ’n huidige 16-jarige kan ek onthou hoe ek n jaar terug mooi moes konsentreer, toe ek die boek vir die eerste keer lees, om by te bly. Dis weens die terugflitshoofstukke wat verskyn, wat meer agtergrond gee oor afgelope gebeure.

Die boek handel oor ’n leerder, Eckardt Wilken, wat in sy matriekjaar by Lawson-kollege aansluit. Aan die begin van die boek is daar konflik tussen hom en die hoofseun, Greg Owen, maar na ’n tyd word hulle goeie vriende. Greg word geïnteresseer deur wat Eckardt doen in sy vrye tyd. Eckardt is ’n kuberkraker en Greg het uit nuuskierigheid aan hierdie aktiwiteit begin deelneem, as ’n “withoed”. Eckardt het ’n agenda en verdwyn na ’n ruk. Die verhaallyn loop af in ’n ontsyferende speurverhaal. Die leser moet kophou met gebeure om self te probeer uitvind wat met Eckardt gebeur. Die boek handel oor meer as net dit – alledaagse realiteite soos druk wat tieners ervaar en gerespekteerde mense wat met kwaad te doen het, verskyn.

Ek beveel hierdie boek aan vir almal, jonk en oud, om te probeer agterkom wat met Eckardt Wilken gebeur het en watter geheime rondkinkel in albei karakters se lewens. Die boek neem jou in na ’n ander realiteit en is perfek vir as jy ’n blaaskans vanaf die wêreld wil neem.