Die KragDag-span,

in samewerking met SA Homeschoolers, het weereens ’n suksesvolle opvoedkunde-ekspo op 15 Mei 2021 by die Heartfelt Arena in Pretoria aangebied.

Die Gauteng Alternatiewe Onderwys Ekspo het gefokus op privaat alternatiewe tot staatsonderwys en -opleiding. Hierdie ekspo het voorheen grotendeels op tuisonderwys gefokus en as die Gauteng Tuisonderwys Ekspo bekend gestaan. Toe die aanvraag vir alternatiewe tot die standaard skoolgaannorm egter drasties toegeneem het na die instelling van die grendelstaat, het die ekspo-organiseerders besluit om hierdie jaar uit te brei om ook privaatskole, ondersteuningsdienste, buitemuurse aktiwiteite en ’n goeie verskeidenheid tersiêre opleidingsgeleenthede in te sluit.

Die ekspo bied aan ouers die geleentheid om opvoedkunde-oplossings te kry en te netwerk met ouers wat ook in die mark is vir alternatiewe opsies. Besoekers kon luister na verskeie bekende sprekers, waaronder Bouwe van der Eems van die Pestalozzi Trust, Marita Green, ’n veteraan tuisskoolma, Nicolene Steyn, eienaar van Woelwater Aktiwiteitsbokse, Annerine Wenholdt, ’n opvoedkunde-begeleier, en ’n paneelbespreking deur Wingu Academy. Met meer as 80 uitstallers was vanjaar se uitstalling die grootste in die geskiedenis van hierdie ekspo. Lesers kan die lys van uitstallers besigtig deur hier te klik.

Volg @kragdag en @sahomeschoolers op Facebook vir meer inligting oor die opkomende ekspo’s wat in Gauteng, Kaapstad en Durban beplan word.