Tom Swift series by Victor Appleton

Om Engelse boeke te lees is vir my so aaklig soos om alleen te verjaar tydens die grendelstaat. Dit was voor ek die Tom Swift reeks ontdek het. Vyf-en-twintig boeke later en ek kan steeds nie wag om die volgende een te lees nie!
Die oorspronklike Tom Swift reeks het uit 40 boeke bestaan wat tussen 1910 en 1941 onder die skuilnaam, Victor Appleton, geskryf is deur ‘n verskeidenheid skrywers.

Die reeks gaan oor Tom Swift wat nuwe uitvindings uitdink en inspan in sy avonture. Tom Swift is ‘n jong man met genoeg geld en ‘n kop vol idees om altyd met iets nuuts vorendag te kom. Ongelukkig is daar altyd iemand wat in sy slaai kom krap wat sorg vir avonture. Van die uitvindings is ‘n elektriese trein, ‘n sweeftuig, ‘n elektriese geweer en ‘n resies vliegtuig.

Die verskil tussen my en Tom Swift is dat hy genoeg geld het om te koop wat hy nodig het, terwyl ek moet planne maak om my idees laat werk. Dis lekker om te kan droom oor wat jy als kan doen as jy genoeg geld het.

Rad is ‘n snaakse karakter wat geur aan die stories gee. Hy laat my lekker lag veral met sy snaakse manier van praat.
My gunsteling boek tot dusver was Tom Swift and His War Tank waarin hy ‘n verskriklike sterk tenk bou. Ongelukkig vat die eerste paar boeke ‘n tydjie om spoed te vang, maar dis die moeite werd om verder te lees.
Ek het nie gehou van die idee dat hulle aanvanklik in Tom Swift in the Land of Wonders die reuse slawe wou maak nie.

As jy hou van avontuurlike boeke of ‘n uitvinder is wat altyd planne maak is hierdie die reeks vir jou.